KINDERBEDIENING
“Maar Jesus het gesê: "Laat staan die kinders en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle." (Matteus 19:14)
Kinders was, is en sal altyd ‘n groot prioriteit en fokus in ons gemeente bly. Die kinderbediening in Klipfontein val nie rond agter elke suksesverhaal nie, maar werk met ‘n prakties-teologiese bedieningsvisie met een doel voor oë, naamlik die effektiewe holistiese bediening van die kind. In ons soeke en groeiproses het ons oor die jare al heelparty dinge reg gedoen, maar probeer voortdurend vernuwe met die oog op beter effektiwiteit.
Ons teikengroep by die kinderbediening is die kinders van 3jr tot Graad 6. Ons het nie meer tradisionele “Sondagskool” nie, maar verdeel in ontwikkelingsfases vir kinderkerk en kleingroepe daarna terwyl die volwassenes in die kerkgebou vergader. Ons streef ‘n vierledige doelwit na, naamlik:
- Geestelike groei – hier val die klem op Bybelse lering wat vir die praktyk toeganklik gemaak word. Die Bybel is ons bron.
-
Pret – Ons bevorder ‘n gemaklike informele atmosfeer. Gee genoeg tyd vir pret en gaan kamp een keer per jaar vir ‘n naweek.
-
Versorging – Tydens kleingroepe word tyd spandeer aan die toepassing van die Bybelse waarhede op hulle jong lewens met al die gepaardgaande uitdagings. So baie seer is al by kinders sigbaar en die groepleiers en predikant probeer ook ‘n emosionele “pleister” plak waar nodig.
-
Ontwikkeling – Elke pragtige skoenlapper was iewers eers ‘n mooi wurm. ‘n Gedaanteverwisseling is nodig alvorens die ruspe ‘n skoenlapper kan wees. By die kinderbediening probeer ons die kinders help om te word wat hulle in Christus is. Effektiewe en toegeruste werktuie in die Here se hand.
Ds. Marius




